16/01/2025
Die Haan
Agtergrond.
Hierdie kort storie gaan hopelik baie goeie herinneringe bring vir die persone wat op plase groot geword het met hoenders of met hoenders moes deel.
In my tyd was dit uiters belangrik om met hoenders op die plaas werf te boer. Die winkels was te vêr en die gevriesde hoenders te duur.
Eiers bly die onmisbare bestandeel in al die gebak en meeste van die geregte, en daarom was dit uiters belangrik om ook met lê hoenders te boer. Gewoonlik was die hoender hokke nogal groot en was die hok afgekamp met hoë hoender draad. Dit was ogiesdraad met gate van ongeveer dertig milimeter groot. Die omheining self was ongeveer twee komma een meter hoog. Die hoenders kon daar uitgevlieg het en moes hulle vlerke gereeld geknip word
In die groter hoenderhok was daar ook n kleiner hok wat gewoonlik met stene gebou was, hier het die hoenders saans geslaap en was die lê hokke vir die henne ook daar binne. Hier was dit veilig vir die henne om hul eiers te lê en was die hok groot genoeg vir al die hoenders om in te slaap. Daardie dae was daar baie ongediertes wat lief was vir mak plaas hoenders.
By ons op die plaas was dit nie veel anders nie, ons het n groot omheinde hoenderhok van ongeveer twintig vierkante meter gehad met n klein langwerpige rooi baksteen hok met n sinkplaat dak naby die ingang. Die lê hokke was in die agterkant van die hok. In die voorste gedeelte was daar n hout p**l stelasie waarop die hoenders snags kon slaap.
Daar was plaas werkers wat die hoenders moes versorg maar dit het nie beteken dat ons nie daarby moes inval nie veral met die daaglikse uithaal van eiers. Dan was dit ook ons taak om die lê pille vir die lê henne daagliks uit te sit.
Die grootste taak was om na die veiligheid van die hoenders om te sien. Daar was slange, likewane, meerkatte en muishonde. Die roofvoëls was bedags aktief en die hoenders het altyd met n spesifieke gekekkel hulle teenwoordigheid aangekondig. Die henne het só tekere gegaan dat dit moeilik was om hulle te ignoreer. Dan moes jy hardloop vir die .22 geweer om n paar skote die lug in te skiet om die roofvoëls die skrik op die lyf te jaag.
Dit was die agtergrond van my betrokkenheid met hoenders maar, daar was ook nog die vliegkuns en kunstenaar in my wat meer wou hê: ……..
Tussen die ouderdom van tien tot veertien jaar het die vliegkuns vir my en n vriend op n naburige plaas ons nommer een belangstelling geword en het ons baie tyd aan die onderwerp spandeer. Ek het dit op daardie stadium sterk oorweeg om na skool by ATLAS vliegtuig korporasie as n werktuigkundige aan te sluit. Ook maar goed ek het nie want daai “kite” het na 1994 nie weer gevlieg nie.
So kuier ek op n dag by my vriend op n buur plaas, en gewaar ons die groot rooi-bruin haan wat daar op die werf rond skrop. Dit was n “Rhode Island Red” haan met die naam van “Kokkedoor”. Hierdie ras was, bekend vir die groot hane wat hulle opgelewer het.
Die Kokkedoor het voorwaar, die werk waarvoor hy aangeskaf was, goed gedoen want die nageslag wat hy verwek het, was baie en jy kon dit duidelik sien in al die rooi-bruin hoenders wat daar op die werf te sien was.
My vriend Willie, en ek het egter meer belang gestel in sy estetiese voorkoms en die feit dat Kokkedoor glad nie kon vlieg nie. Die vliegkuns is iets waarin ons belang gestel het, en daarom was daar niemand op die plaas, meer gekwalifiseer as ons twee om iets daaraan te doen nie.
Willie se ouers was vir n week lank in Durban met n lanbou kongres, en die tyd was aan ons kant gewees.
Ek het gedurende die voorafgaande week, n foto in die Landbou Weekblad gesien van n hoender haan van die “Bankivahuhn” ras. (Het soos iets geklink wat net n Indiër kon uitspreek). In die berig het hulle na die haan verwys as n “rooi woud hoender” en hulle was seker reg gewees want dit was een van die mooiste hane wat ek nog gesien het. Die haantjie was klein, amper soos n kapokkie, maar het rooi-bruin vere rondom die bors gehad en die punte van die vere het van n g***s smarag groen verander en ge-eindig in n kobalt blou op die punte. Die stertvere was lank en p*k swart. Geel pote en n bloedrooi kam op sy kop. Die nek vere het met n smarag groen begin en stelselmatig verander na n kobalt blou verder af teen die nek. Sy vlerke was lank en die vere swart. Die berig het melding gemaak van die feit dat die ras goed kon vlieg. Dit was al wat ek wou hoor.
Ons moes eers die regte materiale en kleure iewers oes voordat ons met die re-konstruksie prosedure kon begin.
Die mannetjies pou het die regte kleur vere gehad vir die nek en bors. Die pou se vlerk vere was lank en die vere se dikte net reg waarmee ons Kokkedoor se vlerk vere kon verleng. Dan was daar die twee mak kolganse wat self kon spog met n paar kleurvolle vere.
Daar was niks soos “superglue” daai tyd nie net hout lym wat jy self moes maak. Ons het die lym in korrel vorm by die koöperasie gekoop. Die korrels moes dan met n baie klein bietjie water klam gemaak word en daarna in n swart gietyster pot op die vuur of koolstoof verhit word totdat die korrels begin smelt het. Dit moes een of ander hars en boomgom mengsel gewees het want dit het so geruik. Die lym moes warm aangewend word omdat dit vinnig afgekoel het, en as dit eers afgekoel het, dan het dit die karaktereienskappe van goue stroop begin kry. Alles het aan mekaar vasgeplak en hoe meer jy daarmee gesukkel het hoe groter die gemors. Kan net d**k hoe erg dit is as jy dan nog met vere ook werk. Ons het destyds presies dieselfde lym, op laerskool, in die houtwerk klas gebruik. Ek het nou nog tafeltjies wat al sestig jaar oud is waarvan die laste nog net so sterk is soos die dag toe ek hulle gemaak het.
As ons vir Kokkedoor lank genoeg kon stil hou, dan sou die re-konstruksie werk aan sy vlerke en elders vir n baie lank tyd kon hou. Dit het later geblyk dat dit nie so maklik was nie. Kokkedoor was heeltemal tevrede met sy voorkoms en het beslis daarteen baklei
Die pouw mannetjie was uitgeslape en niks wat ons probeer het, kon hom nader as n paar meter van ons af kry nie. Ons het later n ou mieliesak gaan haal. Die sak was swaar en nie maklik om te hanteer nie en ons moes toe maar self vindingryk raak. Moses, een van die plaas werkers kon al die plaas diere goed namaak en ons het hom ingespan om die pouw rustig en nader te kry. Toe die tyd reg was, het ons die sak van agter af oor hom gegooi en hom so gevang. Maar kyk hy was beslis nie gelukkig met hierdie toedrag van sake nie en het verbete terug baklei met skoppe en p*k slae.
Die oes van konstruksie materiaal het begin en kon ons vinnig genoeg van al die vere wat ons wou hê, kry. Met die sak af, en die pouw se kopdoek af, het hy behoorlik sy lot bekla. Daar was niks en niemand op die plaas werf wat nie bewus was van sy klaagliedere nie.
Die volgende oggend was die lym reeds op die koolstoof, die verskillende vere volgens kleur ingedeel en was die potlood skets ook klaar en reg vir die werk wat gedoen moes word. Ons moes net vir kokkedoor in die hande kry. Makliker gesê as gedaan maar met Moses se hulp kon ons die haan van die plaas in die hande kry. Ons het ook die ou metode gebruik waarmee ons menige hoenders rustig kon kry en dit was om die hoender se kop onder sy vlerk in te sit en met beide hande oor die rug te vryf. Dit was asof jy hipnose toegepas het. Kokkedoor was nou rustig en ons het toe maar net n kous oor sy kop getrek en dadelik begin werk. Ons het begin deur elke tweede vlerkveer te verleng. Dit het ons fyn beplan deur na fotos te kyk van voëls wat goed kon vlieg en na die verhouding van die vlerk lengte.
Gelukkig was die gom net reg gewees en kon ons gou klaar speel met sy vlerke. Hy het somer gelyk soos n hoender wat kon vlieg veral die punte van die vlerke wat ons versier het met die mooi ronde motief waarmee die pouw se pronkvere eindig. Daarna het ons begin met die mooimaak proses, die toon naels het ons rooi geverf met “cutex” en die rooi kleur het nogal goed gegaan het met sy geel pote.
Die nekvere was moeiliker gewees want ons moes vere inlas by sy bestaande nekvere en ons wou darem seker maak dat die eind resultaat natuurlik moes lyk. Einde ten laaste het ons nog n bietjie fyn blinkers gekry wat oorgebly het toe Willie se ma verlede jaar se Kers versierings vemaak het. Dit het ons liggies oor die nek en vlerke gestrooi net vir n bietjie g***s.
Kokkedoor was onherkenbaar getransformeer en toe hy daar wegstap het hy soos n pronk perd gelyk selfs sy stap het verander, sy treë was langer en hy het sy pote hoër opgetel. Dit was seker die cutex wat anders gevoel het. Toe hy so n end weg was, wou hy seker maar soos hy gewoond was, sy vlerke klap om alles weer in plek te kry maar, groot was sy verbasing toe hy nie meer die gras onder sy pote kon voel nie. Hy het amper n meter hoog, vir n kort wyle in die lug gehang voordat hy weer gaan sit het. Die kêrel was duidelik van stryk af gebring. Hy het toe daar tussen die skrop henne inbeweeg en dié het ook n spasie oopgemaak tussen hulle en die haan want hulle het hom ook nie herken met sy nuwe veredos nie. Hulle het seker maar onder mekaar gepraat oor die nuwe pierewaaier wat nou op die plaas kom kuier het. Hoe meer Kokkedoor probeer het om ou bande te smee, hoe groter het die agterdog gegroei.
Ek en Willie het vir die eerste keer ook benoud begin raak want kokkedoor was per slot van sake op die plaas vir n baie belangrike taak en nou lyk dit asof hy nie eers meer by daardie takies sal kan uitkom nie. Die henne bly vêr weg en wil niks weet van sy vlerksleepery nie. Die son het gesak en Kokkedoor kon rustig gaan slaap het.
Die volgende dag was die dag wat kokkedoor sy vlerke gaan verdien. Ons het besef dat ons eers stadig moes begin met kort lae trajek vlugte en na gelang van sy sukses, die hoogtes moes aanpak.
Ons het begin deur n dun toutjie aan sy een p**t vas te maak sodat ons hom weer maklik in die hande kon kry na elke mislukte probeer slag.
Ons het begin deur hom eers vanuit n staande posisie in die lug op te gooi, en al wat hy moes doen, was om sy vlerke te klap om te vlieg. Maar hy het elke keer net sy vlerke n paar keer geklap en dan opgehou waarna hy hard met die grond kennis geneem het. Ek het begin d**k dat hy bang was dat hy sou weg vlieg van al die henne af.
Ons moes hom bang maak vir hoogtes sodat hy gedwing was om te vlieg.
Willie het toe, met kokkedoor onder die arm, so hoog as moontlik in die lukwart boom opgeklim, die tou, wat om sy p**t was, losgemaak en na n kort motiverings gesprek, vir kokkedoor verder die hoogtes ingegooi. Kokkedoor het onmiddellik besef dat hy hoog bo die grond was en sy vlerke begin klap… hy het voorentoe beweeg en nie grond toe geval nie. Eers toe hy n goeie twintig meter weg was van die boom af, het hy opgehou om sy vlerke te klap maar het sy vlerke oopgespalk gehou en het hy toe besef dat hy kon sweef soos n arend. Op daardie moment was hy ongeveer ses meter bo-kant die hoenderhok toe pandemonium tussen die hoenders op die grond losgebreek het. Hulle het ged**k dat dit n groot valk was. Al die hoenders hardloop in verskillende rigtings en kekkel verwoed. Kokkedoor sien toe dat die bloekombome nader kom en begin weer om sy vlerke te klap, hy kry toe weer hoogte en begin toe terug draai in die rigting van die plaas werf. Hy hou toe weer ophou vlieg en sweef toe todat hy n suksesvolle landing kon doen. Hy was nog nie mooi standvastig op die grond toe hy losbreek met n lang , uitgerekte kraai. Hy sit toe so veel asem agter die kraai dat hy amper daarvan vlou geraak het.
Kokkedoor skut sy vere reg en pronk kordaat daar voor die henne. Hulle het seker maar ged**k dat n haan wat só kan vlieg ook seker n goeie haan in ander hoedanighede sou wees.
Ons het besluit om kokkedoor n ruskans te gee na sy groot poging vir die dag. Dit was altemits ons laaste kans voordat Willie se ouers terug was op die plaas. Die son het begin water trek en ons het besluit om die laaste poging gedurende die warmste deel van die dag te doen wanneer die lug dunner is en vlug makliker is.
Ons kon kokkedoor eers weer teen 12h30 se kant in die hande kry, ons het al die vere weer nagegaan en in plek geskuif. Maar die keer moes ons hoër gaan as die lukwart boom en die enigste makliker opsie was die windlaaier. Vir die wat nie weet nie, dit lyk net soos n windpomp en die verskil is dat dit net batterye laai en nie water pomp nie.
Willie het weer met kokkedoor onder die arm, die trapleer van die windlaaier bestyg en geklim tot heel bo. Hulle was nou so tussen nege en tien meter bokant die grond. Willie het kokkedoor gegroet en hom met beide hande nog n verdere twee meter hoër die lug in gegooi. Kokkedoor het sy vlerke oopgesprei en begin vlieg of sy lewe daarvan afgehang het. ( miskien het sy lewe daarvan afgehang) Kokkedoor het nog n bietjie meer hoogte gekry maar vlieg toe in n warm lugstroom in wat hom nog baie hoër die hemelruim ingestuur het. Hy het moeg geword van vlerke klap maar gelukkig sy vlerke oopgesprei gehou en die lugstroom het hom bo-oor die lang bloekom bome geneem en hy was teen die tyd al n goeie drie honderd meter weg van ons af. Hy moes net so oor die vyf en dertig meter hoog bokant die grond gewees het. Ons was nou die wat bevrees was en het agterna gehardloop. Vir ons was dit moeiliker want daar was baie hindernisse op die grong waarby ons moes kom terwyl kokkedoor ongehinderd kon lugstrome ry. Ons was later deur drie bees kampe en hekke toe ons weer mooi kontak met kokkedoor gehad het. Op daai
oomblik gooi die warm lugstroom kokkedoor uit en begin hy vinnig daal, weer terug in die rigting van die plaaswerf. Ons maak n negentig grade draai en hardloop weer terug vanwaar ons gekom het. Hierdie keer net meer vreesbevange want ons kan nie bekostig om oog kontak te verloor nie. Kokkedoor het te veel hoogte verloor en gaan dit nie maak om bo-oor die bloekom bome te vlieg nie. Ons skreeu n paar instuksies van onder af, maar waarom sal hy nou na ons wil luister? Hy kies koers tussen die takke deur en al wat ons sien is n paar gekleurde pow vere wat val na benede.
Ons maak dit verby al die hindernisse en kom op die werf aangehardloop net betyds om te sien hoe kokkedoor die plaashuis se dak rakelings mis en homself disness vlieg teen die hoenderkhok se omheining. Toe ons by hom uitkom was hy in n slegte toestand met hardkloppings en n droë keel en ons het hom toe vinning koue suiker water met n lepel ingegee en hom rustig gemaak in die oornag hok.
Jacob, die ou swart plaasweker wat na die hoenders moes omsien het rustig en kalm die volgende te sê gehad:
“ ouk kleinbasies, julle moet nou ophou by die haan om te maak vlieg, julle kan mos sien hy hou nie van vlieg nie. Die oubaas en miesies het hom gekoop om die klein hoendertjies te maak, nie om by die lug te vlieg nie”