12/01/2026
Liewe Lindie en HD
10 Januarie het vinniger gekom as wat enige van ons besef het.
Van ons heel eerste afspraak – speel-speel met dekor en blomme – tot die laaste koffieshop-afspraak om seker te maak niks word vergeet nie… elke oomblik het iets besonders gedra.
Die dag het aangebreek waar alles waarvoor beplan, gebid en gewerk is, bymekaar gekom het.
Die oomblik toe die deure oopgaan… met ma’s en skoonma’s wat die kleinkinders inlei… ek en my beste vriendin en kollega wat die deure oopmaak vir ’n troue wat amptelik begin.
En toe – daardie knop in my keel – die voorreg om die deure oop te maak vir Lindie en haar pa, oom Nico.
’n Beeldskone bruid.
Geen twyfel. Geen angs.
Net ’n glimlag vol sekerheid en liefde, gereed om die man van haar lewe by die altaar te ontmoet.
’n Mielieland-troue, wit blomme in die middel van ’n boer se hart – waar romanse en opregte liefde mekaar vind.
Die saal: wit en swart, elegant en rein.
Glasborde met swart rande, elke gas se naam met sorg op hul plek.
Elke liedjie fyn gekies vir elke oomblik van die dag.
’n Oomblik van stilte… en toe die deure oopgaan vir Mnr en Mev Basson.
En dan die onthaal…
Kos wat bobaas was – so netjies uitgepas, vol geur en met soveel liefde voorberei.
Sjoe Hanroe… dit was regtig lekker!
Ou bekende gesiggies Genade Shoppie wat dit net nóg meer spesiaal gemaak het om saam te werk.
Die warm koffie en drinkgoed van die lieflike nuwe gesiggies Two Sisters Coffee Co. was pure “fuel” om die energie aan die gang te hou – heerlike warm koppies, mooi mensies en goeie geselskap wat die atmosfeer net afgerond het.
Nie verniet “Bassonders” genoem nie – want dit wás besonders om twee mense te sien wat so opreg lief is vir mekaar, waar alles net eenvoudig in plek val.
Lindie en HD, dankie dat ek deel kon wees van julle liefdesverhaal.
Mag julle huwelik altyd gevul wees met dieselfde vrede, vreugde en sekerheid wat julle op daardie dag uitgestraal het 🤍
Liewe Tannie Anet
Drie jaar gelede het ons mekaar ontmoet, hande gevat, en ’n pad saam begin stap.
Die vertroue wat tannie in my geplaas het – dit is net wow.
Dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om nie net dekor en blomme te doen nie, maar om tannie se skoene te kon volstaan en seker te maak die dag loop rustig, mooi en vloeiend.
Om deel te wees van tannie se dogter se troue is werklik een vir die boeke.
Dankie vir elke stukkie vertroue, elke loslaat, elke “ek weet jy sal”.
Ek hoop regtig ek het tannie trots gemaak.
Mag ons vriendskap net mooier en sterker bou vorentoe 🤍
Troue by Tarentaalbos Fasiliteite
Aan my span! Baie dankie vir julle harde werk en liefde wat julle ingesit het sonder julle is ons nie Protea Land!