14/10/2024
‘n Brein is grys…
Ek het Anneline Conradie in1997 laas gesien, ons kinders is dieselfde ouderdom en het in Kleinmond saamgespeel. Ons twee se lewens het afsonderlike en besonderse draaie gemaak. Nou, na 20 jaar, woon ek inBettysbaai en het haar her-ontmoet op facebook. Was nie heeltemal seker waar Franskraal is nie, het net gesien Anni C doen volhoubare binnenenshuise versiering en ek het haar dringend nodig gehad – ek wil uiteraard werk met wat ek het, met min nuwe items en alles deel van die tema van hergebruik, skenk, verkoop. My huis is ‘n skatkis van oudhede, ander s’n. Meubels van welsynswinkels (ander s’n), linne, handdoeke, breekware, soos my Ma sou sê, baksels en twaksels (ander s’n)… My lewens-lekkerte is my drukkersrakkie-versameling (printer’s trays) vol miniature en allerhande tierlantyntjies… Ek het vir Anni ‘n wilde, raserige en praterige video van Bastion gestuur, hoenders en katte ingesluit, en sy het onmiddelik positief gereageer – sonder ‘n humm of ‘n haah, sonder om te twyefel of te wonder oor beide die omvang van die projek, of om haar spesifieke talent in twyfel te trek. Van die eerste dag af, het ons almal op die werf geweet: Anni C is hier en ons is in besonderse hande!
Helaas… nadat sy deur die ganse huis gestap het, kom sy met die gewraakte woorde: “ons sal die huis moet uitverf”. Ek dog sy maak ‘n grap, trek my been, het sy nie gesien hoe groot is die huis nie, het sy nie gesien hoe ontsettend baie honderde en duisende goedjies teen die mure is nie, het sy nie gedink die huidige liggeel is voldoende nie, dit pas by my hout-afwerking… Maar nee, geel is “dated” en sy het voet by stuk gehou, geweier om omgepraat te word, verfkleure in piepklein blikkies gaan haal en summier op die hoek van die eetkamermuur geverf. En met ‘n saaklike stem, vol selfvertroue, verklaar sy dat Bastion bruin geverf gaan word, met fokus mure en al daai relevante woorde. Nou, Liefdes, julle weet ek het ‘n Wildtuin oog, ek kan ‘n geel leeu in geel gras op ‘n myl raaksien, maar waaragtig, die bruin kry ek nie gesien nie… my brein weier en haak (steeds) vas by grys…
Nietemin, ek ontvang ‘n omvattende projekplan met gedetaileerde begroting en alles binne die opdrag: opruim, ontruim, gastekamers moet lyk soos hotelkamers (dis die koffiestasies wat ek begeer). Binne een maand… Ek het gedink Anni gaan die meeste van my ou nstuff uitgooi en nuwes aankoop. Dis egter presies wat sy NIE doen nie, volhoubaar, herbruik, verander… Ek het my verkyk aan hoe sy te werk gaan. Eers is die huis geverf - ‘n plaaslike span, wat die huis ken en binne 10 dae alles afgehaal het, mure geverf het (3 skakerings van grys… ) en geduldig gewag het dat Anni vir hulle sê waar moet wat weer teruggeplaas word. Toe word alles geskuif op hope in die middel van die vertrekke. Daarna moes ek keuses maak van kleure, tipe lappe, watter items is ek geheg aan en dies meer. Wat Anni besonders maak, is dat sy haar kliënt kén -sy het nie vir my klomp keuses gegee nie, ek is immers die Gardiol die Besluitlose…Sý is die Versierder en het my telkens die keuse tussen 2 of 3 tipes gegee, daarna het sy self besluit wat en waarom. Ek kon byvoorbeeld gladnie verstaan hoekom Krompie, die C-vormige outydse bank, her-oorgetrek moet word nie. Sy het vinnig almal (verwys katte en hoenders ook) se simpatie gekry en die bank laat herstoffeer – met pragtige resultate! Dankie Anni, dat jy leiding geneem het met heelwat veranderinge wat vir ons wat hier woon, moeilik is om te motiveer. Dit onderstreep weer eens my lewensuitkyk: kry ‘n kundige… Dit geld vir alles van tuinmaak, berading, breinchirurgie tot binneversiering! Soos ek hier sit en tik, kyk ek na die foto’s wat op facebook geplaas is. En ek is salig gelukkig. Behalwe vir twee dinge, nee drie…
1. Le-aan (wat die boekrakke moes verf) stem gelukkig met my saam. Die huis is grys… Hiehiehie, Anni het alles met potlood gemerk: lig, medium, donker… Ons werkers het gou die taal reggekry, liggrys, middelgrys, donker grys. Dus, toe Anni vir Le-aan sê hy moet die planterak bruin verf, het ons na mekaar gekyk, gegiggel en geweet sy praat van donkergrys… Hahahaha, ons het soveel pret gehad, te midde van stof en boor en spykers en koffie en koek en wyn en swieties.
2. My vriendin Noelien het in die middel van al die veranderinge kom kuier. Ek het my sorge bekla, dat ons die hele huis moes verf en dit gelukkig nou agter die rug is, toe sy so ewe opmerk – die bruin lyk goed… Ek sweer daar word gekonkel!
3. Anni het op ‘n stadium gewonder waarom het ek sekere prente op sekere plekke gehang – toe sê ek vir haar, ‘want daar was ‘n spyker’… Dus, toe Anni klaar is en ons mekaar knop-in-die-keel gegroet het, sien ek twee kaal spykers wat geverf is maar nie verwyder is nie… Nodeloos om te sê, ek het die mees onwaarskynlike prente gaan haal, daar gehang en ‘n foto vir Anni gestuur met die gewraakte woorde: jy wou mos ‘n spyker agterlaat. Hiehiehie, haar sin vir humor, haar energie, haar genot in dit wat sy doen, sal my en ons almal wat haar ontmoet het, na haar moes luister, haar moes glo, haar moes help, vir die res van ons lewens inspireer.
Ek verwys haar graag na enige iemand wat enige iets positief verander wil hê; ‘n kamer, ‘n stoep, ‘n vertoonkas, ‘n houding, ‘n hele huis – sy is jou antwoord, Anni C, ek bewonder jou! Halalaa en tralalaa – ek is ongelooflik gelukkig. Bruin is die nuwe grys, bravo!