08/07/2025
Dit is altyd vleiend maar tog ook lekker as ‘n jarelange vriendin jou nader om idees uit te ruil vir die verfraaing en herverbeelding van haar dorp en strandhuis. Dit was ‘n verfrissende proses want my vriendin se smaak is onpretensieus en eenvoud maar tog ook lig en modern.
Effektiewe binnehuis versiering gaan oor intuitiewe vertolking van ‘n kliënt se smaak en bo alles, oor nederigheid. Want dit gaan ook oor vernuwing met sinvolle behoud van die oue. Deel van die beloning is dikwels bloot die omskepping van iets wat g***s verloor het tot iets vars en opwindend.
Dit was ‘n wonderlike en verrykende reis. Ons het die TV kamer en woonvertrek ‘n nuwe blaadjie laat omslaan met nuwe rakke, die nuutste reeks plakpapier en banke laat herstoffeer. Nuwe matte, koffietafeltjies en stoele het bygedra tot ‘n nuwe gevoel van lig en elegansie. Verf en tekstuur het bygedra tot ‘n gevoel van moderniteit sonder om die gemaklikheid van die bekende te ondermyn.
Dit was ‘n heerlike reis van inspirasie en verbeelding. Met dankbaarheid aan ‘n dierbare vriendin wat my baie ruimte gegee het om haar woonspasies te omskep in iets met ‘n vars nuwe bekoring.